Buurman, Dawid en die manne

Posted: April 25, 2014 in Uncategorized
Tags: , ,

Buurman kan soms mos die vreemdste goed op die vreemdste tye kwytraak. Soos nou een aand toe ek skaars my sit gekry het en hy verklaar dat ons oor die algemeen ook maar ‘n klomp strooi praat terwyl ons wag dat die son oor die horison duik.

Self dink ek die strooi wat ons praat is nogals insiggewend. Met tye. En ek sê ook so, want ek wil darem ook my eier lê.

Allermins, stem Buurman saam, oor die algemeen is seker ‘n sterk stelling, en ek glimlag so binnesmonds want die punt is in my guns. Maar, storm hy voort, daar is meer dae dat ons oor onbenullighede klets as wat ons oor diep sake besin.

Ek gee toe, maar steek vas op die 60-40 merk: 60 vir onder die watermark en 40 vir ligsinnighede. Ek het nou eenmaal so donkierige klap weg.

Buurman verval in stilte: die soort wat woordeloos sê ek moet my praat klaarpraat want wat hy te sê het gaan die laaste woord wees.

Ek ontleed die situasie toe maar vir nog ‘n paar minute, want argumenteer vir argumenteer se onthalwe loop dik in my are. Met tye.

‘n Glas wyn later en met die stadsligte wat een na die ander aankom, tel Buurman die draad op.

Hy het diep nagedink oor ons kuiertjies hier op ons elkeen se balkon, val hy weg, en hy voel hom geroepe om ten minste aan een aand ‘n week ‘n bietjie meer gewigtigheid daaraan te verleen.

Ek loer vining om te sien of my ‘n preekstoel balkon toe gesleep het.

Die oplossing, reken hy, is dat ons weekliks saam Bybelstudie hou.

Né, sê-vra ek, want terwyl ek goed daarvan bewus is dat ons albei gelowiges is, het ons nog nooit by Bybelverse deel uitgekom nie.

Ek kou bietjie aan die gedagte en hoe meer ek doen, hoe lekkerder proe dit op die tong.

Dis reg, Buurman, sê ek toe die lekkerte by my hart begin insypel. Maar hoe gemaak?

Hy’t ‘n plan, stel Buurman my gerus. Ons begin by die Psalms, want die Psalms sê ‘n ding soos hy is. Amper soos hyself, sê Buurman.

Ek knik maar net my kop, want grotendeels sê Buurman ‘n ding soos hy is, behalwe wanneer hy vol strooi is en ‘n storie agter Tafelberg gaan haal, hom Blouberg toe sleep, oor die Helderberge help en dan uiteindelik weer op die balkon kom neergooi.

Dis reg so, Buurman, stem ek in. Kan ek met die eerste psalm begin, want dis ‘n kortetjie en nogals op die man af.

En so skop ons die Bybelstudie af. Hoop jy bly by ons, want nugter weet, ek weet nie self nie waar dit gaan opeinding nie. Voel vry om in te tjip as jy iets het om by te dra. Ek en Buurman is nie teoloë nie. Ons kyk maar die ding so van ‘n kant of uit. Kyk saam. Mens weet nooit waar dit gaan staanplek kry nie.

 

Leave a comment